Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:21-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie.

22. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.

23. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie.

24. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.

25. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

26. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie.

27. Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig.

28. “Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”

29. “Kort na die verdrukking van daardie tydsal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie;die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

30. “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.

31. Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.”

32. “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby.

33. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur.

34. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.

35. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

36. “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

37. Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.

38. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.

39. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24