Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:9-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel.

10. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11. “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.

12. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

13. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

15. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.

16. “Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

17. Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18. Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

19. Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word?

20. Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles wat daarop is.

21. Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God wat daarin woon.

22. En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.

23. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

24. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.

25. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid.

26. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.

Lees volledige hoofstuk Matteus 23