Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:2-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk.

3. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie.

4. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie.

5. Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.

6. Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges

7. en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8. “Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers.

9. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel.

10. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11. “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.

12. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

13. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

15. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.

16. “Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

17. Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18. Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

19. Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word?

20. Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles wat daarop is.

Lees volledige hoofstuk Matteus 23