Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18:16-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

17. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.

18. “Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.

19. Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,

20. want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

21. Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22. Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.

23. Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan.

24. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het.

25. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word.

26. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’

27. Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28. “Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’

Lees volledige hoofstuk Matteus 18