Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:10-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan!

11. Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak 'n mens onrein.”

12. Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13. Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word.

14. Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As 'n blinde 'n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15. Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16. “Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus.

17. “Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie?

18. Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak.

19. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.

20. Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”

21. Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek.

22. 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 15