Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:9-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word.

10. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof.

11. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het.

12. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.

13. Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.

14. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

15. Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

16. Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”

17. Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”

18. “Bring dit vir My hier,” sê Hy.

19. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.

20. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het.

21. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

22. Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan.

23. Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24. Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor.

25. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

Lees volledige hoofstuk Matteus 14