Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het.

12. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.

13. Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.

14. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

15. Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

16. Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”

17. Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”

18. “Bring dit vir My hier,” sê Hy.

19. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.

20. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het.

21. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

Lees volledige hoofstuk Matteus 14