Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:4-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters.

5. Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie.

6. “Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel.

7. As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie.

8. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”

9. Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom.

10. Daar was juis 'n man met 'n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?”Hulle bedoeling daarmee was om 'n klag teen Hom te kry.

11. Hy sê toe vir hulle: “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie?

12. Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.”

13. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een.

14. Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.

15. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar

16. hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat.

17. So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

18. “Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het,my Geliefde oor wie Ek My verheug;Ek sal my Gees op Hom laat kom,en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

Lees volledige hoofstuk Matteus 12