Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:32-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”

33. “As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken.

34. “Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.

36. “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag.

37. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

38. Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.”

39. Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

40. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.

41. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!

42. Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 12