Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:12-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.”

13. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een.

14. Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.

15. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar

16. hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat.

17. So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

18. “Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het,my Geliefde oor wie Ek My verheug;Ek sal my Gees op Hom laat kom,en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

19. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie,en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

20. 'n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nieen 'n lamppit wat rook, nie uitdoof nie;Hy sal die wil van God laat seëvier.

21. En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

22. Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien.

23. En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?”

24. Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.”

25. Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie.

26. As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan?

27. En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is.

Lees volledige hoofstuk Matteus 12