Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:33-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34. Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36. Toe het Hy 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê:

37. “Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

38. Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

39. “Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat 'n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie.

40. Wie nie téén ons is nie, is vír ons.

41. “Elkeen wat vir julle 'n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”

42. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as 'n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.

43. “As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur.

45. En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word.

47. En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word.

48. Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Lees volledige hoofstuk Markus 9