Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 8:13-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Hy het hulle daar laat staan, weer in die skuit geklim en na die oorkant van die see toe gegaan.

14. Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad.

15. Jesus het hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”

16. Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie.

17. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip?

18. Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle nie,

19. toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie?”“Twaalf,” sê hulle vir Hom.

20. “En sewe brode vir die vier duisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou?”“Sewe,” sê hulle vir Hom.

21. Toe sê Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”

22. Hulle het in Betsaida aangekom, en toe bring die mense 'n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak.

23. Hy het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra: “Sien jy al iets?”

24. Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.”

25. Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien.

26. Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie by die dorp aangaan nie.”

27. Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”

28. Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”

29. “Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”

Lees volledige hoofstuk Markus 8