Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:41-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

41. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel.

42. Al die mense het geëet en genoeg gekry.

43. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis.

44. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.

45. Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur.

46. Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid.

47. Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand.

48. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan.

49. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu,

50. want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

51. Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan,

52. want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.

53. Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan.

54. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken

55. en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is.

56. Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Lees volledige hoofstuk Markus 6