Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:33-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom.

34. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

35. Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat.

36. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.”

37. Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”

38. Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.”

39. Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet.

40. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit.

41. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel.

42. Al die mense het geëet en genoeg gekry.

43. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis.

44. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.

45. Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur.

Lees volledige hoofstuk Markus 6