Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:24-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25. Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in 'n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26. Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met 'n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie.

27. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof,

28. sy kop in 'n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29. Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

30. Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het.

31. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.”

32. Hulle het met 'n skuit na 'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees.

33. Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom.

34. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Lees volledige hoofstuk Markus 6