Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 16:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6. “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.

7. Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8. Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

9. Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het.

10. Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het.

11. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.

12. Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe.

13. Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie.

14. Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.

15. Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Lees volledige hoofstuk Markus 16