Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:7-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Daar was 'n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg.

8. Daar het toe juis 'n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was.

9. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

10. Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11. Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.

12. Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”

13. “Kruisig hom!” skreeu hulle.

14. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15. Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

16. Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar.

17. Toe trek hulle Hom 'n pers mantel aan en vleg 'n doringkroon en sit dit vir Hom op.

18. Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19. Hulle het Hom herhaaldelik met 'n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys.

20. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Lees volledige hoofstuk Markus 15