Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:25-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26. En die rede waarom Hy gekruisig is, was op 'n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27. Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom.

29. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou!

30. Red jouself en kom van die kruis af.”

31. Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!

32. Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

33. Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.

34. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35. Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36. Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37. Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

Lees volledige hoofstuk Markus 15