Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:12-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”

13. “Kruisig hom!” skreeu hulle.

14. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15. Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

16. Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar.

17. Toe trek hulle Hom 'n pers mantel aan en vleg 'n doringkroon en sit dit vir Hom op.

18. Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19. Hulle het Hom herhaaldelik met 'n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys.

20. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

21. Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22. Hulle bring Jesus toe na 'n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken.

23. Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie.

24. Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26. En die rede waarom Hy gekruisig is, was op 'n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

Lees volledige hoofstuk Markus 15