Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:12-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak.

13. Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”

14. “En wanneer julle die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie — wie dit lees, moet dit goed begryp — dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.

15. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie;

16. en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

17. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.

18. Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie,

19. want in daardie tyd sal daar so 'n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie.

20. En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort.

21. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie.

22. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei.

23. Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.”

24. “Maar in daardie tyd,ná daardie verdrukking,sal die son verduister worden die maan sal nie skyn nie;

25. die sterre sal uit die ruimte valen die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

26. “Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit.

27. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

28. “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby.

29. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur.

Lees volledige hoofstuk Markus 13