Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:27-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

28. Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29. Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.

30. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

31. Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32. “Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’

33. En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34. Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.

35. Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is?

36. Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê:“ ‘Die Here het vir my Here gesê:Sit aan my regterhandtotdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’

37. “Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”Die groot menigte mense het graag na Hom geluister.

Lees volledige hoofstuk Markus 12