Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:16-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Hulle bring toe vir Hom een en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”“Die keiser s'n,” antwoord hulle Hom.

17. Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”En hulle was stom van verbasing oor Hom.

18. Toe kom daar Sadduseërs na Jesus toe. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie.

19. Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat maar nie kinders het nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’

20. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie.

21. Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so.

22. Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe.

23. Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

24. Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie?

25. Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.

26. En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ nie?

27. Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

28. Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29. Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.

30. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

31. Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32. “Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’

Lees volledige hoofstuk Markus 12