Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:10-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Julle het tog al in die Skrif gelees:“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

11. Dit is deur die Here gedoenen is 'n wonder in ons oë.”

12. Hulle het toe na 'n plan gesoek om Hom te laat vang, want hulle het besef dat Hy met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Maar hulle was bang vir die mense en het Hom laat staan en weggegaan.

13. Toe stuur hulle 'n paar van die Fariseërs en van die Herodiane na Jesus toe om Hom met 'n vraag in 'n strik te vang.

14. Hulle kom sê toe vir Hom: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?”

15. Jesus het egter geweet dat hulle huigel en Hy het vir hulle gesê: “Waarom stel julle vir My 'n strik? Bring vir My 'n muntstuk dat Ek sien.”

16. Hulle bring toe vir Hom een en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”“Die keiser s'n,” antwoord hulle Hom.

17. Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”En hulle was stom van verbasing oor Hom.

18. Toe kom daar Sadduseërs na Jesus toe. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie.

19. Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat maar nie kinders het nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’

20. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie.

21. Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so.

22. Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe.

23. Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

24. Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie?

25. Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.

26. En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ nie?

27. Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

Lees volledige hoofstuk Markus 12