Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:18-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na 'n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.

19. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan.

20. Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is.

21. Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

22. Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê!

23. Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.

24. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

25. “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

27. Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe

28. en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”

29. Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen.

30. Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.”

31. Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

32. Maar moet ons sê: ‘Van mense af’? ...” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik 'n profeet was.

33. Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.”Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Lees volledige hoofstuk Markus 11