Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer.

2. Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag 'n man van sy vrou skei?”

3. Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”

4. “Moses het toegelaat dat iemand 'n skeibrief opstel en skei,” het hulle geantwoord.

5. Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het.

6. Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’

7. ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe,

8. en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een.

9. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”

10. In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra.

11. Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou.

12. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

13. Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas.

Lees volledige hoofstuk Markus 10