Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.

8. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

9. Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop.

10. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal.

11. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

12. Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in,

13. waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

14. Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig.

15. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

16. Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep.

17. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18. Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19. Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak,

20. en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

21. Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer.

Lees volledige hoofstuk Markus 1