Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

2. In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.Hy sal die pad vir jou regmaak.

3. Iemand roep in die woestyn:Maak die pad vir die Here gereed,maak die paaie vir Hom reguit.”

4. Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

5. Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6. Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

7. Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.

8. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

9. Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop.

10. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal.

11. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

12. Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in,

13. waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

14. Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig.

Lees volledige hoofstuk Markus 1