Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:36-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

36. Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is.

37. Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.

38. Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê:

39. “Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.

40. Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte.

41. Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom,

42. want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud.Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom.

43. Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie.

44. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe:

45. “Wie het My aangeraak?”Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”

46. Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”

47. Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48. Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

49. Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

50. Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”

51. Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8