Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:22-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself?

23. Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?

24. Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

25. Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan.

26. Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.”

27. Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”

28. Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.

29. Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit.

30. Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

31. Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.

32. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

33. Die mense sê toe vir Jesus: “Die volgelinge van Johannes vas dikwels en onderhou gereelde gebedstye, en so ook die volgelinge van die Fariseërs, en u dissipels eet en drink maar.”

34. Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is?

Lees volledige hoofstuk Lukas 5