Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3:4-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:“Iemand roep in die woestyn:Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

5. Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.

6. En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”

7. Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?

8. Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.

9. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10. Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

11. Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

12. Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”

13. En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

14. Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15. Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie.

16. Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

17. Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18. Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19. Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 3