Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 21:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.

13. Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig.

14. Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie,

15. want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie.

16. Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak.

17. En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar

18. daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie.

19. Deur julle volharding moet julle julleself red.”

20. “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is.

21. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie,

22. want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid.

23. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf.

24. “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 21