Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:15-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.

16. Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.

17. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

18. 'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

19. Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.

20. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.”

21. Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.”

22. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

23. Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.

24. Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom.

25. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26. Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?”

27. Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.”

28. Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.”

29. En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie,

Lees volledige hoofstuk Lukas 18