Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:21-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

22. “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.”

23. Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien,

24. want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.”

25. Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26. Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27. Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

28. “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29. Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30. Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee.

31. Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby.

32. Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby.

33. Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.

Lees volledige hoofstuk Lukas 10