Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:23-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.

24. Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê:

25. “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

26. In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea.

27. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria.

28. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29. Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken.

30. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.

31. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.

32. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee,

33. en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34. Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”

35. Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.

36. Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand.

37. Niks is vir God onmoontlik nie.”

38. Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”Toe het die engel van haar af weggegaan.

39. Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan.

40. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet.

41. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul

42. en het hard uitgeroep:“Geseënd is jy onder die vroueen geseënd is die vrug van jou moederskoot!

43. Waaraan het ek dit te dankedat die moeder van my Herena my toe kom?

Lees volledige hoofstuk Lukas 1