Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:22-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.

23. Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.

24. Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê:

25. “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

26. In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea.

27. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria.

28. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29. Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken.

30. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.

31. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.

32. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee,

33. en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34. Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”

Lees volledige hoofstuk Lukas 1