Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20. “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord.

21. “Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22. Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word.

23. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

24. Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is 'n sondaar.”

25. Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26. Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27. “Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28. Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is 'n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses.

29. Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man — ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30. “Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees.

31. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.

Lees volledige hoofstuk Johannes 9