Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was.

2. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?”

3. En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

4. So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.

5. Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6. Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë

7. en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8. Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9. Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”“Dit is ek!” het hy self gesê.

10. Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11. En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12. “Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.“Ek weet nie,” was sy antwoord.

13. Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring.

14. Dit was op 'n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het.

15. Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16. Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat 'n sondaar is, sulke wondertekens doen?”En daar was verdeeldheid onder hulle.

Lees volledige hoofstuk Johannes 9