Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. In Judea wou Hy dit nie doen nie, omdat die Jode daar Hom wou doodmaak.

2. Maar die huttefees van die Jode was naby.

3. Jesus se broers sê toe vir Hom: “Gaan 'n bietjie hiervandaan na Judea toe dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen.

4. 'n Mens wat oral bekend wil wees, doen nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.”

5. Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

6. Jesus sê toe vir hulle: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg.

7. Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.

8. Gaan julle maar fees toe. Ek gaan nie na hierdie fees toe nie, omdat die tyd vir My nog nie reg is nie.”

9. Dit het Hy vir hulle gesê, en Hy het daar in Galilea gebly.

10. Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend.

11. Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: “Waar is hy?”

12. Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: “Hy is 'n goeie man.” Maar ander het gesê: “Nee, hy mislei die mense.”

13. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.

14. Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer.

15. Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!”

16. Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.

17. As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.

18. Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 7