Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:7-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

8. 'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom:

9. “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10. Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend.

11. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13. Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

15. Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

16. Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan,

17. in 'n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie.

18. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar 'n sterk wind gewaai het.

19. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword.

20. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

21. Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

22. Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag

23. kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het.

24. Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus.

25. En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 6