Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:35-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.

38. Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

39. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

40. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

41. Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.”

42. Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43. Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie.

44. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

45. By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe.

46. Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47. “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.

48. Ek is die brood wat lewe gee.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6