Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:28-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29. En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30. Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?

31. Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

32. Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.

33. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34. Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”

35. Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.

38. Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

39. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

40. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

41. Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.”

42. Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43. Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie.

44. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

45. By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6