Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep.

9. Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook.

10. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”

11. Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

12. Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.”Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is.

13. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.

14. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

15. Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

16. Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”

17. Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?”Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.

18. Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

19. Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

20. Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: “Here, wie is u verraaier?”

21. Toe Petrus hom dan sien, vra Petrus vir Jesus: “Here, en wat van hom?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 21