Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:15-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

16. Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”

17. Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?”Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.

18. Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

19. Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

20. Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: “Here, wie is u verraaier?”

21. Toe Petrus hom dan sien, vra Petrus vir Jesus: “Here, en wat van hom?”

22. Jesus antwoord hom: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!”

23. Die gerug het toe onder die broers versprei dat daardie dissipel nie sal sterwe nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterwe nie, maar: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie.”

24. Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is.

25. Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 21