Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:13-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.

14. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

15. Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

16. Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”

17. Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?”Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.

18. Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

19. Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

20. Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: “Here, wie is u verraaier?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 21