Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur:

2. Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam.

3. Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang.”“Ons gaan ook saam met jou,” sê hulle vir hom.Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie.

4. Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie.

5. Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?”“Nee,” antwoord hulle Hom.

6. Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.”Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.

7. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!”Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek — want sy bolyf was kaal — en in die water gespring.

8. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep.

Lees volledige hoofstuk Johannes 21