Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 19:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4. Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5. Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6. Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7. Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8. Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword.

9. Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”Jesus het hom egter nie geantwoord nie.

10. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11. En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12. Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13. Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata.

Lees volledige hoofstuk Johannes 19