Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.

10. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

12. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

13. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

14. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.

15. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

16. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.

17. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

18. “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.

19. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.

20. Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem.

21. Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 15