Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:8-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9. Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

10. En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

11. Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12. Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?

13. Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.

14. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.

15. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

16. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.

17. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

18. “Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’

19. Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is.

20. Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”

21. Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22. Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie.

23. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit.

Lees volledige hoofstuk Johannes 13