Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6. Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”

7. En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.”

8. Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9. Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

10. En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

11. Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12. Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?

13. Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.

14. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.

15. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

Lees volledige hoofstuk Johannes 13