Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.

2. Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai.

3. Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.

4. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak.

5. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6. Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”

7. En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.”

8. Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9. Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

10. En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 13